Altes Land

Middeleeuse vakwerkhuise in Stade se Hansehawe

Altes Land is 'n landskap suid van die Elberivier in Hamburg en Nedersakse wat deel uitmaak van die oorspronklike Elbemoerasgebied (Duits: Elbmarsch). Die streek behels in administratiewe opsig die dorpe Jork, Samtgemeinde Lühe en Rübke, 'n stadswyk van Neu Wulmstorf in Nedersakse, asook die Hamburgse stadsbuurte Neuenfelde, Cranz en Francop.

Met sowat 14 300 hektaar se vrugteboorde is Altes Land die grootste vrugteprodusent in Sentraal-Europa, en die sowat 1 000 vrugtebedrywe se jaarlikse omset beloop meer as 250 miljoen € (2,5 miljard ZAR).[1] Van die vrugtebome is sowat 77 persent appel- en 12,7 persent kersiebome. In die lentetyd tussen April en Mei verander die bloeityd van kersie- en appelbome die streek in 'n landskap van pers en wit kleure en lok honderdduisende besoekers, net soos gedurende die oestyd in die najaar wanneer appels, pere en pruime ryp word.

Die twee belangrikste stede in die Alte Land is Stade en Buxtehude. Stade het 'n trotse geskiedenis wat al meer as 1 000 jaar gelede begin het en was in die Middeleeue 'n belangrike Hansestad wat in die 12de eeu selfs Hamburg oortref het. Die historiese middestad het bewaar gebly en is vandag 'n belangrike toeristebestemming. Ook die vroeëre Hansestad Buxtehude, wat omtrent 1285 deur die Bremense aartsbiskop Giselbert as 'n vesting teen die Welfe gestig is en waar Nederlandse setlaars later talle kanale aangelê het, het sy Middeleeuse stadskarakter rondom sy hawe bewaar.

  1. DreiStromLand. Ems - Weser - Elbe. Boekdeel 3. Hamburg: edition nordwest im Europa Verlag 2005, bl. 60

© MMXXIII Rich X Search. We shall prevail. All rights reserved. Rich X Search